“JOU NAAM IS GROEN OLYFBOOM”

Die Here is nou al geruime tyd besig om my te roep en Hy het vir my gewys om hierdie webwerf te begin omdat Hy ‘n werk het wat gedoen moet word.

 

Ek is ‘n Maatskaplike Werker met Sielkundige agtergrond -  het in 1979 tot bekering gekom, my twee seuns in die Vrese van die Here opgevoed, vir 22 jaar Sondagskool gehou en in die kerk se musiekgroep gespeel. In 1988 is ek gedoop met die Heilige Gees en sederdien baie kere soos ‘n muil weggetrek terwyl die Here my telkens moes terugruk na my roeping en verkiesing in Hom.

 

Gedurende 2008 het die Here vir my gewys ek moet ‘n baie nou pad saam met Hom stap en moet oorgee. Ek het dit gedoen maar nie geweet Hy gaan ‘n paar maande later my man wegneem sodat ek alleen is en my alles aan Hom kan toewy nie. Louw se dood is vir my die moeilikste ding ooit wat ek moet verwerk en ek besef nou dat ek aan die werk moet spring met dit wat die Here vir my wys sodat ek ook heling kan vind – en omdat die tyd kort is. Die Here kom dalk gouer terug as wat almal verwag en ek wil gehoorsaam wees aan Sy stem. Ek soek die Koninkryk van God met my hele hart en wese – ek smag om te leer van die geestelike dimensie waarin ons gaan voortlewe en ek wil voorbereid wees om die Here met ‘n skoon, rein hart en gewete te ontmoet wanneer dit vir my “tyd is om huis toe te gaan”.

 

VISIE :
My visie vir hierdie webwerf Koppel ek aan Jeremia 11:16 “ Die Here het jou die naam gegee : groen olyfboom, skoon deur mooi gevormde vrug”. My uiteindelike doel is om mense te bedien sodat ons almal vrug in die gees kan dra want sonder vrug is ons werke dood en kan ons nie die Koninkryk van die Here uitbrei nie. Ek sien dus ‘n “familie in Christus”, vol van die dinge van die Here en met vuur vir die werk wat die Here oor ons paaie stuur.

 

Hosea 14 :7 dan sal....”sy lote uitsprei en sy prag wees soos die van die olyfboom”.

As ons soos die olyfboom vergelyk word beteken dit ons is diep gewortel in Christus, ons soek na die lewende waters met ons alles, ons groei stadig maar standvastig en ons dra vrug met vele gebruike. Ons bied skaduwee en lafenis aan ander = rus en vrede in Christus.

 

MISSIE :


  1. Eestens wil ek LUISTER. Daar is so baie mense wat rou is van binne en iemand nodig het wat luister. Ek wil jou uitnooi om vir my epos te stuur en ons gaan probeer om jou te antwoord op jou vrae en bekommernisse. Maar die belangrikste van alles is – ek WIL na jou luister omdat ek opreg omgee. En ek glo dat diegene wat ons hier gaan bedien weer sal uitgaan en verder met omgee sal luister na ander in nood.
     
  2. Bediening : Die Here wys vir my baie dinge in die gees en al kan ek nie altyd al die detail van die situasie insien of verstaan nie, gee Hy vir my byvoorbeeld ‘n tema en dan verstaan ek presies waarvoor om te bid. Ek voel die Here het hierdie gawe vir my gegee om mense daarmee te bedien. Ek het baie getuienisse in die verband wat ek nog sal deel maar ek besef wanneer die Here praat moet ons luister en doen – doen wat Hy wys al verstaan ons dit nie altyd self nie – dis gehoorsaamheid. So sien ek dat mense wat hierdeur bedien word, sal uitgaan en sensitief sal wees vir die inspraak van die Heilige Gees en net so die gawes wat die Here hulle gee sal beoefen en mekaar daarmee sal gaan bedien.
     
  3. Bemoediging : Ek is baie lief vir skryf en wanneer die Here vir my wys om iets te skryf, is dit asof my verstand onvrugbaar is – ek sal byvoorbeeld net begin omdat die Here vir my so wys en dan vloei die woorde van bemoediging op papier. Dit beteken vir my vriende en kollegas baie en weereens voel ek die Here het hierdie gawe vir my gegee om mense daardeur te bemoedig. Watter gawes die Here ookal aan jou uitdeel sal jy kan identifiseer en gebruik tot Sy eer en tot bemoediging van ander.
     
  4. Toerusting : 0pleiding is ook een van my passies en afhangende sal ek ook vorentoe kursusse/opleidingsprogramme vir mense van alle ouderdoms- groepe aanbied. Enige tema wat sosiale of geestelike vaardighede vereis. 


 
Die doel van hierdie werf is eerstens om die Here se werk te bevorder – Sou daar geld ingevorder moet word, sal dit net wees om die Koninkryk van die Here uit te brei – ek laat hierdie saak dus in die Here se hande – Hy sal voorsien.

 

Ek is lief vir Hom omdat Hy my eerste liefgehad het en daarom wil ek alles van harte doen “soos vir die Here omdat my loon van Hom af kom”. Ek het bedags ‘n bitter moeilike werk maar ek het besef ons moet te midde van dit alles sterkstaan en die Here se Naam hooghou want ons is absoluut niks sonder Hom nie. En ons moet hierdie liggame aanspreek om te ontspan want hierdie lewe is vol spanning en depressie.

 

Ek wil afsluit deur vir jou te vertel hoe lief die Vader jou het!! Dis ‘n liefde sonder grense, sonder eise, sonder seerkry  -  ‘n liefde wat jy nie met jou menslike verstand sal kan verstaan nie. Hy jubel en juig oor elke persoon wat Hom soek en Hy wil met jou “maaltyd hou”. Net na ek in 1988 gedoop is met die Heilige Gees het die Here vir my hierdie eenvoudige liedjie en woorde gegee en ek deel dit met jou.

 

O ek dank U vandag...
My liewe liewe Heer.
U bewaak my hart se deur.
U sit op my troon –
En ek daarlangs.
Ek ervaar vrede - geen angs.

 

KOOR :
Ek luister na U soete stem…
Wyl my hande U voet omklem.
Van storms daarbuite is ek bewus..
Maar U maak my gerus.

Daar’s ‘n klop aan my deur....
Kom help my liewe Heer!!
Dis die vyand wat my wil beroof.
“Staan op My Kind ek het jou beloof....
Staan op - wees sterk in jou geloof”.

 

KOOR :
Ek luister na U soete stem…
Wyl my hande U voet omklem.
Van storms daarbuite is ek bewus..
Maar U maak my gerus.

Mag die Here jou ryklik seen en jou toerus met bonatuurlike herlderheid van verstand, wysheid, insig en onderskeiding sodat jy kan weet wat die goeie, volmaakte, perfekte wil van God vir jou lewe is!! Sodat jy vrye en feestelike toegang tot die Ewige Koninkryk van God kan verkry en jy GROOT VRUG sal dra om siele vir die Koninkryk te wen.

Hierdie lewe - vertel iemand vir my - “is relatief” want party word 100 jaar oud en ander skaars ‘n dag oud – dis ‘n “tentwoning”, van verbygaande aard – maar by die Here gaan ons vir ewig voortbestaan. Dit is waar ek wil he jy ook moet wees!! Sodat ons saam onder die bome – langs die waterstrome – op die groen gras kan sit en die Here kan verheerlik!!

Verlang jy ook daarna?

Het jy pyn of hartseer, vertel vir my daarvan sodat ons dit voor die Here se voete kan le.

Liefde in Jesus Christus ons Here en Verlosser.